Bosbou - NOK-belegging laat M’langa-meulens swaarkry
Bosbou - NOK-belegging laat M’langa-meulens swaarkry

Pretoria. – Sowat 6 000 werkers in Mpumalanga kan volgens saagmeuleienaars hul werk verloor weens ’n belegging van onder meer die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) in ’n Swazilandse maatskappy.
Die NOK, Swaziland se pensioenfonds vir staatsamptenare en sy nasionale voorsieningsfonds het in die maatskappy Montigny Investments belê sodat hy die Usutu-bosboubedrywighede in Swaziland van die Suid-Afrikaanse papier-en-pulp-maatskappy Sappi vir R1 miljard kon koop.
Montigny se webadres herlei egter na NHR Investments, ’n Suid-Afrikaanse bosboumaatskappy wat in Piet Retief geregistreer is en glo voorheen as Montigny Investments handel gedryf het.
Die NOK het sowat 20% van die Usutu-transaksie gefinansier, volgens Jaltech Financial Consultants, wat die transaksie gefasiliteer het.
Volgens die NOK is hy egter nooit formeel genader om ’n saagmeule te finansier nie.
Hy sê Sappi se bedrywighede het nie ’n saagmeule ingesluit nie, maar dit lyk asof Montigny een vestig.
Die Mpumalanga-saagmeulenaars sê Montigny het reeds verskeie saagmeulens daar.
Sedert die transaksie, wat in Julie afgehandel is, word nuwe lewe geblaas in die Usutu-bosboubedrywighede, wat Mpumalanga se saagmeulens onder druk plaas.
Verskeie plaaslike meulens moes al sluit of is op die punt om te sluit omdat hulle nie kan meeding met die pryse van NHR se gesaagde hout en ander houtprodukte nie.
Volgens saagmeulenaars van Graskop, Ermelo en die gebiede tussen-in kan hulle nie meer meeding met Swaziland se laer dieselpryse, arbeidskoste en elektrisiteitstariewe nie, al koop die meeste saagmeulens hul krag direk van Eskom.
Mpumalanga se saagmeuleienaars het ook die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) gevra om ondersoek in te stel na beweerde BTW-ongerymdhede met die in- en uitvoer van hout na en van Swaziland.
Verskaffers van grondstowwe soos Komatiland Forests, York Timbers, Sappi en private plantasie-eienaars kan ook nie die kleiner saagmeuleienaars tegemoet kom deur pryse te verlaag nie omdat hulle self druk ondervind.
Moontlike werkverliese in die hele waardeketting – van grondstowwe tot finale produkte – bedreig Mpumalanga se ekonomie, sê die saagmeulenaars.
Een van hulle, wat ook ’n plantasie besit, sê hy subsidieer nou sy saagmeule met sy hout.
Fidel Mlombo, Cosatu se provinsiale sekretaris in Mpumalanga, sê die provinsie se werkloosheidsyfer is die hoogste in die land en staan tans op 30,4%, maar 44,5% as mense wat ophou werk soek het, ingereken word.
Mlombo sê hy moes onlangs ingryp by ’n loonstaking deur meer as 1 000 saagmeulwerkers.
Van hul griewe was dat soveel saagmeulmaatskappye so vinnig besig is om te sluit en honderde werkers hul werk verloor.
“Ek het geen twyfel nie dat die goedkoop hout van Swaziland en ander lande bydra tot die bloedbad van werkverliese in die provinsie,” sê Mlombo.
Ek het geen twyfel nie dat die goedkoop hout van Swaziland en ander lande bydra tot die bloedbad van werkverliese in die provinsie.
Fidel Mlombo, Cosatu se provinsiale sekretaris in Mpumalanga
Van die saagmeuleienaars sê hulle het reeds met die departement van nywerheid en die Suid-Afrikaanse kommissie vir internasionale handelsadministrasie (Itac) gepraat oor die probleem, maar as gevolg van die vryhandelsooreenkoms in die Suider-Afrikaanse
Ontwikkelingsgemeenskap is daar niks wat die owerhede aan die saak kan doen nie.
Coenraad Bezuidenhout, uitvoerende hoof van die Vervaardigingskring, sê al wat die regering kan oorweeg, is voordeliger elektrisiteitspryse vir nywerhede.
“Suid-Afrika gaan al hoe meer die slagoffer wees van sy buurlande se vooruitgang.”
Hy sê al hoe meer lande “word wakker” met nywerheidsbeleid, wat subsidies en beskerming insluit.
’n Saagmeuleienaar sê selfs al kry hulle hul elektrisiteit so te sê verniet van Eskom, is dit die somtotaal van verskeie faktore wat hulle verlam.
* Belanghebbendes in die bedryf vergader Donderdagaand hieroor in Amsterdam. Die NOK finansier onder meer hoë-impak- en arbeidsintensiewe nywerheidsontwikkelingsprojekte in en buite Suid-Afrika.
Source : www.beeld.com






















